Ontmoet ons toegewyde onderwysers en personeel wat elke dag met passie werk om ons leerders te ondersteun en te inspireer.
Ons personeel is toegewyd aan die akademiese en persoonlike ontwikkeling van elke leerder. Met jare se ondervinding en 'n passie vir onderrig, skep hulle 'n omgewing waar kinders kan floreer.
Welkom by Laerskool Vryheidsmonument
Om ‘n kind by ‘n skool in te skryf, is altyd ‘n groot gebeurtenis – selfs al gebeur dit meer as een keer. Dit is waarom ons hierdie proses met die grootste sorg en verantwoordelikheid hanteer. Ons verwelkom u van harte by ons skool. U kan uitsien na sewe opwindende en betekenisvolle jare van leer, groei en ontwikkeling vir u kind by Vryheidsmonument. Elke kind is uniek – hulle verskil in kultuuragtergrond, emosionele en intellektuele rypheid, gesondheid, fisieke vermoëns, belangstellings, taalvaardigheid, selfvertroue en onafhanklikheid. Ons maak deeglik kennis van hierdie verskille en pas ons onderrig en ondersteuning daarop aan sodat elke kind sy volle potensiaal kan bereik. By Vryheidsmonument streef ons na ‘n goeie balans tussen kultuur, sport en akademie, met die klem altyd op akademiese ontwikkeling. Ons het die voorreg om met ‘n span ervare, goed opgelei en gemotiveerde personeel te werk, wat voortdurend saamwerk om seker te maak dat elke klas en elke kind voordeel trek uit hul kundigheid. Geen kind val in ons stelsel agter nie, en ons doen alles moontlik om leer en ontwikkeling vir almal te verseker. Onderwys het deesdae baie verander. Ons skool funksioneer soos ‘n gesonde gemeenskap waarin ouers ‘n groot rol speel. Vryheidsmonument waardeer die ondersteuning van ons ouers enorm – julle help om skole, terrein en bykomende personeel moontlik te maak. Saam kan ons kinders se talent, karakter en vaardighede laat groei. Ek nooi u uit om hierdie opwindende pad saam met ons te stap. Ons het mekaar nodig om elke kind te help om die uitdagings van die toekoms met selfvertroue en sukses te hanteer. Moet asseblief nie huiwer om my te kontak indien daar enige vrae is nie. Hier by Monnies spring u kind weg met ‘n voorsprong! Vriendelike groete, Pieter de Bruin