Ons leerlingraad verteenwoordig die stem van ons leerders en dien die skoolgemeenskap met toewyding en leierskap.
Hoofseun en Hoofdogter van 2026
Hoofdogter
My laerskooljare by Laerskool Vryheidsmonument het baie vinniger verbygegaan as wat ek ooit kon dink. Dit voel soos gister toe ek as ’n klein, onseker Graad 3-leerder met groot drome by die hek ingestap het. Vandag staan ek met ’n dankbare hart en groot nederigheid as Hoofdogter vir 2026. Ek wil eerstens al die eer aan my Hemelse Vader gee. Sonder Sy genade, leiding en krag sou hierdie voorreg nie moontlik gewees het nie. Dit is vir my ’n groot eer om ’n leier én ’n dienaar van ons pragtige skool te wees. Laerskool Vryheidsmonument is soveel meer as net ’n skool – dit is ’n plek van groei, veiligheid, waardes en herinneringe. Ons onderwysers is ware rolmodelle wat nie net kennis oordra nie, maar ook harte vorm. Dankie aan elke Monnie-onderwyser vir julle opoffering, liefde en volgehoue geloof in elke leerder. My gebed vir 2026 is dat die Here ons skool sal beskerm en seën, dat Hy elke leerder, onderwyser en ouer sal dra, en dat ons as Monnie-familie altyd ons oë op Hom gerig sal hou. Mag ons met wysheid lei, met liefde optree en met nederigheid dien. ’n Warm welkom aan al ons Graad 1-leerders en nuwe Monnie’s. Julle is nou deel van ’n spesiale familie – wees dapper, wees vriendelik en geniet elke oomblik. Aan my mede-leerders: gee hierdie jaar jul beste in alles wat julle aanpak – akademie, sport en kultuur. Onthou dat elke uitdaging ’n kans is om sterker te word en te groei. En aan die Graad 7’s van 2026 – kom ons maak hierdie laaste jaar by Vryheidsmonument een wat onthou sal word, gevul met trots, respek en Monnie-gees! Kom ons leef ons leuse “Vorentoe” elke dag uit – met geloof in God, hoop in ons harte en hande wat mekaar ondersteun. Hou vas aan Spreuke 3:5–6: “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Dankie vir die vertroue wat in my en die leierspan gestel word. Ek sien uit na ’n geseënde, betekenisvolle en onvergeetlike 2026 saam met elke Monnie. Vriendelike groete Izel Roelofs
Hoofseun
Ek begin die jaar 2026 as hoofseun by Laerskool Vryheidsmonument met 'n hart vol dankbaarheid en groot drome. Dit is vir my 'n groot eer en 'n verantwoordelikheid wat ek met nederigheid en dankbaarheid aanvaar. Van my eerste dag by Laerskool Vryheidsmonument het ek geleer jy hoef nie groot te wees om 'n verskil te maak nie. Jy moet net bereid wees om te glo, hard te werk en ander met respek en liefde te hanteer. Laerskool Vryheidsmonument het my geleer om op te staan wanneer dit moeilik raak, om nooit my drome te laat vaar nie en om altyd my beste te gee - nie net vir myself nie, maar vir ander ook. As hoofseun wil ek 'n voorbeeld wees. Iemand wat luister en help. Iemand wat wys dat vriendelikheid krag het, dat spanwerk harte bou en dat elke leerder raak gesien en waardeer moet word. Dankie vir elke onderwyser wat in my geglo het, elke vriend wat my aangemoedig het en elke oomblik wat my gehelp groei het. Ek dra hierdie titel met trots en beloof om altyd my skool met eer te verteenwoordig. Aan elke nuwe leerder, julle is verseker in goeie hande. Ons is trots om julle as deel van ons skoolfamilie te verwelkom. Gr7 Monnie maats kom ons vat ons laaste jaar by Laerskool Vryheidsmonument vas met alles wat ons het, kom ons leef elkedag voluit, ondersteun mekaar, bou mekaar op en los 'n nalatenskap van respek, vriendelikheid en trots. 2026- Ons MONNIE span is reg vir jou! Dankie Liewe Heer vir die voorreg! Ons plaas ons vertroue in God met elke stap wat voorlê, Ek weet Hy lei ons pad. 'Die Here sal jou pad reguit maak.' Spreuke 3:6 Lucas Havenga
Ons toegewyde leerlingraad vir 2026
Onderhoofdogter
Onderhoofseun